Deursoek hierdie blog

Woensdag 13 Januarie 2016

Hoe gewoontes jou gesondheid raak



Die mens is die produk van sy gewoontes (creature of your habits).

Hierdie frase het jy al by my gehoor en gaan jy nog baie lees. Byna alles wat ons is en nie is nie, bereik of nie bereik nie, wat met ons gebeur of nie gebeur nie, wat ons aantrek of wegstoot, is die gevolg van ons gewoontes.

Dit is dus nie net van toepassing op ʼn gesonde leefstyl, ʼn gesonde liggaam, verslanking of om fiks te word of bly nie. Dit is van toepassing op elke ander area van ons lewe.

Maar vandag praat ons oor ʼn gesonde leefstyl.

Ek sal nog in die toekoms meer uitbrei oor ons gewoontes en verslanking. Dit is redelik direk gekoppel. Of ons gewoontes en ʼn gesonder liggaam. Ja siekte is nie iets wat maar net toevallig met jou gebeur nie. Wat jou bekruip soos Bryan Habana wat sy opponent in ʼn verrassende laagvat aarde toe trek 5 meter van die doellyn af nie. Nee dit is byna altyd die gevolg van ons eie gewoontes, denke, woorde, leefstyl, keuses en geloof. Maar dit is ʼn blog vir ʼn ander dag.

ʼn Gesonde leefstyl bly die kern vir baie ander resultate. Ek gaan jou nie vandag vermoei met die wetenskaplike bevindinge nie, maar daar is ʼn direkte verband met ʼn gesonder leefstyl en jou geluk, jou funksionering, jou energie en jou psigiese gesondheid of te wel emosionele intelligensie (EI).

Gesonde gewoontes sluit dinge in soos:

  • Wat ons eet, wanneer ons eet en hoe ons eet.
  • Ons oefenprogram.
  • Tyd vir stilword, meditasie, gebed of net refleksie.
  • Ons oggendprogram. Staan jy op net om die dag in te jaag, of maak jy tyd vir oefening, meditasie en gebed en strekoefeninge.
  • Om genoeg water te drink.
  • Saam met wie ons tyd spandeer.
  • Om tyd te maak vir lees en nie net altyd besig met TV of Internet nie.
  • Kry ons genoeg slaap in (dit verskil natuurlik van mens tot mens wat genoeg goeie slaap is).

Dit is maar enkele goeie en gesonde gewoontes wat ons daagliks of weekliks in nodig het om in ons program in te werk.

Dit is nodig om te dink hoe ons leef, hoe ons dink en praat.

Jy sal sien dat dit alles gewoontes is. Dinge wat ons aanleer om te doen en mee volhard om ʼn meer produktiewe, gelukkige en vervulde en gesonde lewe te leef.

Die gebrek aan goeie gewoontes, beteken nie jy het nié gewoontes nie.

Meeste mense se verskoning is gewoonlik hulle het nie tyd nie. Maar gaan sit mooi en dink hoe lyk jou gewoontes.

Vat dit meer tyd om water te drink as iets ongesond soos gas koeldrank?

Wat doen jy direk nadat jy opgestaan het?

Hoeveel tyd spandeer jy voor die TV, of in ander slegte gewoontes.

As jy mooi gaan dink is, dit nie ʼn kwessie van tyd nie. Dit is eerder ʼn kwessie van slegte of ander gewoontes. Jy het net nie besef jy het daardie gewoontes  nie. Die uitdaging, en dit waarmee ek jou graag help, is om gesonde gewoontes in plek te stel en te sien hoe baie dinge stelselmatig verander.

Dit is reg, jy het dikwels nie nodig om met baie moeite iets in jou lewe te verander nie. Kweek net die regte gewoontes aan en die verandering kom vanself. Positiewe resultate is die direkte resultaat daarvan.

Jy IS die produk van jou gewoontes. Goed of sleg. So jy sal die produk van goeie goed, positiewe, opbouende en betekenisvolle resultate word as jou gewoontes verander.

En jy kan dit een op ʼn slag doen. Dalk ʼn nuwe gesonde gewoonte elke twee weke of elke maand aanleer. Dink daaraan, in 12 maande se tyd sal jy twaalf goeie, gesonde en betekenisvolle gewoontes hê. Dink hoe jou lewe positief in die volgende 12 maande gaan verander!

Wat het dit met verslanking te doen?

Alles. Want as jy die regte gewoontes in jou lewe aangeleer het en daagliks toepas, het jy jou doelwit reeds halfpad bereik. Alles begin met ons denke en die gevolglike gewoontes wat ons het.

  • As jy meer wil weet oor hoe ek jou hiermee of in baie ander areas kan help, besoek my webwerf: www.wilcoroberts.co.za.   


Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking